Update
GEORGE NUUS - Die land se dramagemeenskap staan verslae na die dood van een van ons beroemdste akteurs, Eric Nobbs (68). Nobbs het Sondagmiddag 23 Oktober in die Dolphin View Hotel in Bloubergstrand gesterf, vermoedelik weens 'n hartaanval.
Nobbs het in 1978 sy professionele debuut gemaak in die produksie Die Keiser van Bartho Smit, en het sedertdien in talle TV-reekse en rolprente gespeel, onder andere Boetie Gaan Border Toe, Orkney Snork Nie, Ma-plotters, Die Byl en die kortfilm Moordenaars Karoo wat vroeër vanjaar in Klaarstroom geskiet is.
Nobbs het in 1995 begin om sy eie vertonings te vervaardig en het talle suksesvolle eenmanvertonings in Suid-Afrika en Namibië gelewer.
Volgens sy vrou, Desré, het hy kort voor sy dood na 'n naby geleë Spar geloop om 'n paar goedjies te gaan koop. "Hy was ook tussendeur besig om sy woorde te oefen vir die produksie waarmee hy besig was – die derde kykNET-reeks, Lui maar op, Belinda, waarin hy saam met Brümilda van Rensburg, Annelisa Weiland en Duncan Johnson speel.
"Hulle is van Johannesburg, en hy van George, so hulle bly dan gewoonlik in Kaapstad wanneer hulle verfilm. Met die hele Covid-resessie was dit moeilik, hy was so dankbaar oor dié werk," het Desré gesê.
"Eric het by die hotel vir die skoonmaker in sy kamer gesê hy voel nie lekker nie, en gaan lê. Sy was besig in die badkamer. Hy het begin ruk, en die paramedici is ontbied. Hy het in sy hotelkamer gesterf. Hulle is nog nie seker oor die oorsaak nie, maar 'n hartaanval word vermoed."
Desré en Eric was 41 jaar getroud en het saam in George gebly. Hy was dikwels besig met projekte op ander plekke, maar die twee het 'n baie hegte band gehad.
"Eric is al wat ek gehad het, ons het nie kinders nie," het Desré gister gesê. "Ek was 'n enigste kind en my ma is vroeg dood. Ek voel so… my woorde is nou weg."
Die filmvervaardiger Koos Roets en sy lewensmaat Eunice Visser, onthou hul laaste kuiertjie saam met Eric aan die begin van die jaar.
"Hy het vir ons kom kuier in 'n bloedig warm Klaarstroom in die Karoo waar ek en Koos woon en Eric besig was met die verfilming van die kortfilm Moordenaars Karoo," het Eunice gesê.
"So tussen die verfilming deur het hy op 'n reeds hittige laat-oggend 'n draai by ons gemaak en ons het daar en dan besluit om 'n waatlemoen te sny. En so in die koelte van die peperboom by ons agterstoep is daar tussen die etery heerlik en hartlik saamgelag, stories vertel en gekuier tot hy weer moes aanmeld vir die verfilming van 'n toneel."
FOTOGALERY: Ons gaan jou mis Eric Nobbs!
Koos beskryf Eric as 'n intelligente akteur met 'n natuurlike talent wat geensins moeilik was nie, wel professioneel en toegewyd aan sy vak, met 'n groot respek vir die rolle wat hy vertolk het.
"Selfs op produksies waar die begroting knap en die werk intens met 'n klein filmspan was, was hy altyd professioneel, behulpsaam, geduldig, konstruktief en respekvol. Dit is hoe ons Eric finaal sal onthou - gul van hart en gees. Ons eer die nagedagtenis van 'n spesiale mens en kollega. R.I.V. Eric."
Desré is Woensdagoggend na Soutrivier vir die uitkenning, saam met haar swaer, Eric se boetie. Weens onvoorsiene omstandighede is al die prosesse vertraag, wat beteken daar is nog nie onmiddellike planne vir 'n gedenkdiens nie. Eric word oorleef deur Desré, sy ma, René, wat ook in George woon, en sy drie broers, Adriaan, Marius en Eugene.
Eric Nobbs in Ma-plotters met Rina Nienaber en Phil Wolfaardt.
Staaltjies
Koos het die eerste keer saam met Eric gewerk op die bekende TV-reeks Koöperasiestories toe Eric die karakter van die spoorwegbusdrywer vertolk het wat altyd die voorrade by onder andere Genis se winkeltjie moes aflaai.
"Genis het hom met toebroodjies omgekoop om sy winkel se voorrade eerste af te laai... En daar eet hy toe die toebroodjie met 'n kokkerot en al. Hy het die rol briljant vertolk en Koos was beïndruk deur die wyse waarop hy onder die karakter se vel kon inklim," het Eunice vertel.
"Die volgende rol waarin hy Koos as regisseur beïndruk het, was as die skelm Pirow Bentley in die aksie-komedie film Wie Laaste Lag wat uiteindelik met sy medepligtige met driemiljoen rand in 'n ligte vliegtuig voor die polisie probeer vlug. Oortuigend en briljant en 'n akteur wat regie kon begryp."
'n Familielid van Desré, Magdel Brand, het 'n pragtige inskrywing op Facebook gedeel: "Wat 'n hartseer dag vir ons familie met die afsterwe van ons oom Eric Nobbs. Snaaks hoe daar sekere goed is wat mens net altyd onthou, ek onthou toe ek klein was hoe groot ek gevoel het, want my 'TV-oom' het my by die kinderkrans kom oplaai en hoe lekker ek op die strand gespeel het met my emmertjie en grafie wat oom Eric en tannie Desré Nobbs as 'n geskenk vir my gegee het, die Kersfees na my pa se dood. Ai, my hart is seer. Rus in vrede oom Eric. Hierdie curtain call het heeltemal te vroeg gekom... "
Die televisiekanaal eNCA berig oor Nobbs se dood vroeër vandeesweek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'