Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Verskeie mense in Suid-Afrika en selfs uit die buiteland het vanmiddag (23 Januarie) deelgehad aan ‘n virtuele viering van wyle Marius Swart se lewe.
Die 79-jarige Swart is Sondag in die hospitaal in George aan Covid-19 oorlede. Hy was voorheen onder meer burgemeester van George en lid van die parlement. Swart was een van Heroldsbaai se bekendste inwoners.
Onder diegene wat ingeskakel het was sy eggenoot Sannett, sy familie, vriende, Alan Winde, Wes-Kaapse premier, Leon van Wyk, George se burgemeester en Douglas Gibson, ‘n voormalige hoofsweep van die DA in die parlement en ‘n oudambassadeur.
‘n Deurlopende tema van die geleentheid was dat Swart ‘n vriend van mense was met ‘n goeie humorsin. Hy gaan gemis word.
Kyk 'n video hieronder:
Van Wyk het gesê Swart het ‘n baie belangrike rol in George gespeel. Hy was ‘n uitstaande verteenwoordiger van George en die streek. Sy charismatiese teenwoordigheid gaan gemis word.
Gibson het Swart as ‘n gewaardeerde vriend, kameraad en parlemetarier beskryf.
Marius Swart (jr) het gesê sy pa was baie meer as ‘n pa. Hy was onder meer ‘n mentor. Sy ma en pa was 53 jaar getroud. Die eerste ding wat sy pa saans gedoen het as hy tuis gekom het was om sy ma ‘n drukkie te gee en te soen.
Steyn Momberg, skoonseun, het gesê al huil mense kan hulle ook lag wanneer hulle Swart in herinnering roep.
Teen die einde van die geleentheid is mense gevra, waar hulle ook al is, om ‘n glasie te klink of selfs koffie te drink ter viering van Swart se lewe.
Vorige artikels:
- Hulde gebring aan Marius Swart
- Wyle Marius Swart se lewe die naweek gevier
- Marius Swart oorlede
- Marius Swart se toestand onveranderd
- Eks ANC-Burgemeester sterf, eks DA-Burg kritiek
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'