SUID-KAAP NUUS - Nog 'n oudburgemeester van George en 'n parlementslid, Marius Swart, is Sondag 17 Januarie in 'n hospitaal in George aan Covid-19 oorlede.
Die 79-jarige Swart was een van George se bekendste inwoners. Hy het diep spore in George getrap en reusebydraes gelewer. Talle oudkollegas en vriende het sedert Sondag hulde aan hom gebring.
Flip De Swardt, wat ook burgemeester van George was, het Maandag gesê hulle het mekaar meer as 20 jaar geken. De Swardt het op 'n stadium in die burgemeesters-komitee gedien toe Swart burgemeester was.
Hy het hom as 'n reguit mens beskryf. "Jy het geweet waar jy met hom staan. Hy was 'n baie goeie burgemeester."
Volgens De Swardt is hy eintlik die vader van die verfraaiing en die opgradering van die tuine langs George se strate. "Die George-stadsraad behoort dit ernstig te oorweeg om erkenning aan wyle Marius Swart te gee deur byvoorbeeld 'n straat na hom te vernoem."
Bazil Petrus, wat Swart as burgemeester opgevolg het, het hom beskryf as ferm, maar regverdig.
"Hy het 'n baie groot bydrae tot die sterk vestiging van munisipale infrastruktuur en administrasie in George gelewer. Ek onthou hom as 'n politikus wat nie aan posisies vasgeklou het nie."
Volgens Petrus kon hy voortbou op die fondasies en grondslag wat Swart gelê het. Die afgelope tyd het hulle gereeld telefonies kontak gehad. "Sy dood is 'n groot skok."
Jaco Londt, DA-voorsitter in die Wes-Kaap, het gesê Swart se dood is 'n reuseverlies. Hy het 'n integrale rol gespeel in die groei van die party. "Hy het 'n ongelooflike persoonlikheid gehad. Wanneer hy by 'n vergadering was, het hy altyd sy teenwoordigheid laat geld."
Tertuis Simmers, voorsitter van die DA se oosstreek, het gesê Swart was direk en regverdig. "Hy sou jou aanspreek oor jou foute. Ek het baie by hom geleer. Toe ek in 2019 as Wes-Kaapse minister aangestel is, was hy een van die eerstes wat my gebel en gelukgewens het. Hy het ook vir my advies gegee."
Steyn Momberg, Swart se skoonseun, het gesê sy dood is 'n groot skok. Hulle het nog 'n paar weke gelede saam gholf gespeel.
Swart word oorleef deur sy vrou, Sanett, drie kinders, Marius (jr), Helena Swart en Liezel Momberg en drie kleinkinders.
Dienste
Die DA in George het inwoners uitgenooi om deel uit te maak van 'n verbyrit-gedenkdiens vir Swart wat Vrydag 22 Januarie om 10:30 sal plaasvind. Die wat belangstel kan in die parkeerarea by Checkers in Yorkstraat (langs KFC) aanmeld.
'n Virtuele viering vind Saterdag plaas om 15:00. Die skakel is hier.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'